Categories//Kategorieë

‘n hand vol vet // jako meyer

vet is die liefde. daardie liefde wat soms wipplank tot kaiings
word stadig afgemaai tot fraiings,
totdat dit dikker en dikker aan die vel vasplak.
daarna kan ek en jy,
loodreg

aan weerskante

boggels en bulte bou met arms

wat om ons vou

 -'n hand vol vet waaraan jy kan vasklou,
net so vet as wat die liefde jou maak.

 

© Jako Meyer

liefde: groenlewe // sanko lewis

'n Vryvertaling uit Koreaans van 'n gedig deur Kim So-yeop

O, die liefde:
liggroen trane.

Winters wind;
uitgerekte stilte;
'n grot;
dan skielik 'n ontploffing—
lewe ontkiem!

In 'n bors eens begrawe,
'n straaltjie liefde—
Nou, 'n vuur!

Kortvoorlank bloei
daar orals klam bloeisels—
hulle vul die hele wêreld met
gulle liefdesliedere!

O, die liefde:
'n sagte liefdesasem
wat uit 'n brose boesem ontkiem
tot 'n besonderse
groen lewe!
 

사랑은 초록빛 생명 — 김소엽

생명은 빛으로 오내
사랑은 연초록
눈물로 오내.

겨울 바람
침묵의 기나 긴 동굴
오랜 기다림 끝에
참고 참아 터뜨린
생명의 발아.

가슴에 묻어 둔
한 줄기 사랑
이제 불이 되었네.

새 순 돋듯
물기가 돌고
첨은으로 내다분
새상 가득 환희의 아가.

사랑은
보드라운 연록의 숨결
여리고 순한 가슴에서
아, 찬란한
초록빛 생명이여

blom // sanko lewis

Vryvertaal uit Koreaans vanaf 'n gedig deur Kim So-yeop

My liefling!
Jy's nie 'n man nie.
My liefling!
Ek is nie 'n vrou nie:
Nie man of vrou nie, maar mense.

Die oggenddou was sewekeer
die kiem van ons liefde –
laat 'n naamlose saad:

Ek wil jou tuin heen gaan
en in besonderse bloeisels blom.

 

van spoke, gedaantes en leesgierige leerders // louise prinsloo

Na my vierde kinderstorieboek en 'n besoek aan 'n Karooplaas waarop 'n vervalle klipmurasie staan, het ek besluit om van gedaante te verander en te begin spookstories skryf. Maar dit was makliker gesê as gedaan want wat of wie is 'n spook? Waarom en wanneer word gespook? Vir die volgende paar jaar doen ek toe navorsing oor spoke, of soos die geleerdes verkies, afgestorwe geeste, en kom in die literatuur  op 'n groot verskeidenheid spoke af. Afgesien van land-, see- en lugspoke, word ook verwys na  dwaalgeeste, gedaantes, verskynsels en poltergeeste of lawaaispoke. Iemand sal glo net na sy of haar dood spook indien daar nog onafgehandelde werk is of as die dood te skielik gekom het.
Nadat Die Geheim van Groukatlaagte vir publikasie aanvaar is, het Human en Rousseau my gevra om 'n reeks te skryf en so is die Gedaantes en Geraamtes-reeks gebore. Die Geheim van Groukatlaagte speel af op 'n denkbeeldige Karooplaas met Annatjie as die dwaalgees wat haar hangertjie soek wat sy uit woede voor haar verloofde se voete neergegooi het voordat hy dood is.


 
Ek het besluit om my eie spoke uit te dink eerder as om oor bestaande Suid-Afrikaanse spoke, soos die Meisie van Uniondale, of die Erasmuskasteel, te skryf en daarom handel elke storie oor die avonture van drie maats, Wikus, die spookkenner, Karel, die amateurfotograaf en Giepie, die slim maar versigtige een. Elke spookstorie eindig op 'n goeie noot en ek weef van die omgewing, plaaslike geskiedenis of die tema in die spookstorie in.

Die Stem in die Trommel. Die heel eerste skeepswrak aan die Suid-Afrikaanse kus dateer terug na  1505 naby die huidige Mosselbaai. Al wat oorgebly het, was 'n mas en 'n geraamte. Ons het  Jongensfontein dikwels besoek  en dus kon ek die omgewing redelik akkuraat beskryf. Een van die inwoners het my met die kaart gehelp wat voorin die boek verskyn. Sommige lesers het die huis gaan soek waarin die drie hoofkarakters gekuier het! Ek het baie navorsing oor die Portugese seevaartbedryf gedoen asook die muntmuseum besoek. Die trommel, met Kaptein de Mendonca se gees daarin, het van die Soares-wrak geval en is deur die getygolwe na Jongensfontein gesleur waar dit tussen die rotse vasgesit het. Een aand met springgety ontdek Wikus en sy maats die trommel, haal dit uit en sleep dit huis toe.

Skaduwee op Siwet speel af op 'n denkbeeldige vakansie-oord langs die Kruger Wildtuin af. Dié keer is dit 'n poltergees wat Wikus die simptome van malaria gee.

Droomkamer op Donkerhoek speel af in 'n stokou huis wat gerestoureer word. Jare gelede is Fatima, die slavin in die toringkamertjie vermoor. Elke keer as iemand daar slaap, verskyn Fatima in die slaper se drome. Almal was te bang om uit te vind waarom en deur wie is sy vermoor, behalwe Wikus natuurlik. Jare gelede het Fatima verlief geraak op Wilfred, een van die Britse soldate wat aan die Slag van Blouberg deelgeneem het. Wilfred het hom later in Kaapstad kom vestig. Sy vrou het iemand gesoek om vir haar naaldwerk te doen en so het Fatima vir haar begin werk tot op daardie noodlottige dag . . .

Die Osiris-raaisel wentel rondom bygelowe. Wikus se ouma Griesel koop vir hom 'n kas op 'n vendusie omdat sy kamer so deurmekaar is en hy die goed wat so rondlê daarin kan bêre. Die kas is bekrap met allerhande prentjies en syfers. Nadat Wikus en sy twee maats die kas skoongemaak het, verskyn die oorspronklike eienaar van die kas in die spieël. Hy het 'n hartaanval voor die spieël gekry en daarom is sy gees nou in die spieël. Wikus help om daaruit en los die raaisel van die Osirisring op.

Skimme van Gister se tema is hipnose. Wikus wen 'n pastelskets by die skoolkermis. Wanneer hy voor die skets sit, lank na die groen voordeur staar terwyl sy horlosie langs hom hard tik, word hy gehipnotiseer en word hy deel van die karakters in die pastelskets.

Dwaalgees van Duiwelskantoor handel oor Wikus-hulle op 'n geskiedenistoer Mpumalanga toe en 'n besoek  aan Kaapschehoop, die moderne naam vir die gewese delwersdorpie. My man moes 'n paar keer in Mpumalanga gaan werk en het by 'n gastehuis  tuisgegaan. Ek is die volgende keer saam en toe die destydse eienares hoor dat ek skryf, gee sy my die “opdrag” om oor Kaapschehoop te skryf, “maar dit mag nie in my gastehuis spook nie.” Daarom spook dit in die denkbeeldige Royal Hotel. Kaptein Ziervogel van die ZARP moes jaarliks die inkomstebelastinggeld na Lydenburg neem. Hy is vermoor vir die trommel geld.
Spookhuis by die See. Speel af op Mosselbaai. Een van my kollegas het eendag met 'n horingoue trekklavier by die skool opgedaag en gesê: “Skryf 'n storie hieroor.”

Die geeste van die Amathole is in Omnibus 2 opgeneem en verskyn nie as 'n aparte boek nie. My man moes ook dikwels Oos-Londen toe gaan vir sy werk en toe is ek eenkeer saam. Daar het ek op die idee afgekom vir die storie omdat dit weer druk in die nuus was oor 'n jong Xhosa-meisie wat deur die toordokter as 'n heks uitgeruik en gestenig is. Wikus-hulle moet gaan krieket speel teen van die Oos-Kaapse skole en maak kennis met Thandi se dwaalgees. Thandi is in die tyd van Eerwaarde Brownlee in die Oos-Kaap uit jaloesie vermoor.


 
Duiwel in die Bos is in Omnibus 3 opgeneem wat April 2012 verskyn. Die storie speel af in Pretoria tydens die Francois Swart rugbyfeestoernooi wat by Afrikaans Hoër Seunskool tydens die Paasnaweek plaasvind. Duiwel in die Bos is die outydse naam vir kosmosblomme. Affie-seuns het volgens oorlewering hulle eie spook.

Die Gedaantes en Geraamtes-reeks is gewild by meisies en seuns. Laer-en hoërskole koop dit vir die mediasentrums aan en Engelse Hoërskole gebruik dit as leesboeke vir Afrikaans Eerste Addisionele Taal Graad 10. Die eerste agt titels in die reeks is al 'n paar keer herdruk. Omnibus 1 is  tans in sy tweede druk.

Wyle Professor Elise Botha het eenkeer vir my gesê dat ek haar kleinkinders aan die lees gekry het deur middel van die Geraamtes en Gedaantes-reeks.

Louise Prinsloo is 'n gewese laerskoolonderwyseres en skrywer van kinder- en jeugverhale

die blinde man neek neer // hennie meyer

kwartpad in ‘n vreemde jaar // niel van deventer

Ek wou dit so graag oopskryf
en doodskryf
en liaseer,
waar geen haan weer sal kraai nie.

Ek wou so graag 'n nuwe sangboekie
op rotse uit-ets, en vir jou sing
iewers tussen takke en wolke
sonder verwagtinge of voorbehoud.

Hoe verwoord mens verlede-tyd se hartseer
dat ander dit ook verstaan.
Soos die dag toe daardie stempel in jou
paspoort gedruk is, Kersfees 2005.
Hoe verduidelik jy waarheen jy eintlik toe wou reis.

Ek kan nie toor nie
en ek wil nie hoor nie,
nie nog hoor
van bloed en sonde en ewige lewe nie.

Ek wil bierbrou en skink en laf-laf
vergeet van toe ons klein was
en ons sondes nog lig was.
Daar is te veel pyn vir ons om onsself nog te pynig.

Daar is te veel God vir ons
om nie in onsself te wil glo nie.

Daardie wond sal ophou bloei
en as sy rofie afval waar niks hom
kan eet nie.
As daardie letsel vel word maar
jy nie kan vergeet nie.

Sal 'n hart sag-stil oor joune bloei.

Dis amper April en hierdie jaar
het nog nie sy tanne eenkeer vir ons gewys nie.

© Niel van Deventer

bloedgebrek vir die uitwoners van winter // kabous verwoed

Bring vir my die vaalheid van die maan, of die sombere blink van
sterre, as jou mense in die donker begrafnis hou en die wildehond
wegraak, onder die stowwerige pote van sy prooi.
Kom stamp jou voete aan my kant,
kom maak jou hande amper brandwarm
om my koue straat, konkavuur,
maar vertel my van die woede van jou winter.
Van sakke kole op 'n twaalfrand special en hoe ver die pad na hitte is.
Van jou vriend Vusi oor die straat
met wie julle een oggend middel laasjaar heeltemal bevrore en
heeltemal verniet, na 'n ambulans toe gehardloop het.
Vergas my, op koue stories oor die maan, heelnag bo jou kop deur 'n
skreef in sink en die laaste vyftig jaar se straatgeluide, wat nooit
verander het nie.
Kom sit hier by my in die dansende vlammelig.
Kop op my skouer en jou fluister saggies in my oor.
Van viruskinders, jonk soos die oggend, maar Godvroeg in die grond en
die Amerikaanse medisynes, so duur, dit kon niemand red nie.
Dan huil en vloek ons gedemp saam oor die ironie in Mark Shuttleworth,
se fokken dollardanse langs die maan.

Laat jou naam jou eie wees.
Laat jou taxi voor donker kom.
Ek vra niemand vir genade nie,
maar alleen vir geluk.

Amen.

© Kabous Verwoed

wagtyd in kaapstad // franco prinsloo

jou woorde het eentonig geword
soos die geruis van jou stad
'n minimalistiese masturbasie
'n oor en oor aleatoriek
ons was duidelik op twee verskillende treine

jou beloftes het ineengesmelt
soos die klanke van jou stad
by die oordrom insypel
geruisloos repeterend deur die kognitiewe
verdwaal in die onderbewussyn
langdurig sonder variasie
iewers hoelahoep jou woorde (is)
geruisloos 'n vêr gamelan
oor en oor-
('n ineengesmelte agtergrond-belofte)

[hoor, Reich, 1976: Music for 18 musicians]

-soos die geruis van jou woorde
'n oor-die-oor oor en oor
blinkbreëskouerstad sonder beloftes

© Franco Prinsloo

van my aan jou // gp terblanche

vroegoggend
lê opgeskulp
in die baai van my lyf

jou hare ruik na heuning
jou lyf is muskus en jasmyn
jou lippe rooi granaat
jou borste twee wit duiwe wat teen my pronk
jou maag is 'n kom vol nektar en wyn
jou lende 'n lushof
'n edenboord
oorlopens vol soetryp vrug

jou soene sjampanje in my mond
jou vingers vlinders op my rug
jou asem hemelsklank

tuimelend tussen planete
in 'n sterrerëen
midde stormende see
klouend, klewend
soos aan reddingsboei
tot ons
soos drenkelinge
liefdesdronk
uitspoel op die strand
jy oopgeskulp
teen die rotse van 'n ander land

© G.P. Terblanche

 

Some rights reserved by mrpbps

tea for two // frederick j botha

Hoe pak mens ’n lewe van 83 jaar op? dink sy by haarself soos wat sy haar ma sit en aanskou, al sukkelend met die twee plat gevoude bokse.  Farm eggs pryk in blou aan die kante.  Sy besef dat dit seker vir haar ma ’n moeite moet wees om die bokse te probeer oopvou.  Sy druk haar sigaret dood in die asbakkie wat haar ma vir haar onder uit die kas gegrawe het.  ’n Souvenir vanuit Australië, het haar ma haar gemaan. 
“Gee dat ek ma help”, sê sy en vat die bokse aan by haar ma.  Haar ma trek moeisaam ’n kombuisstoel uit en sak moedeloos daarin neer.  Sy vou haar arms op die kombuistafel op so ’n manier dat haar plat borste te ruste kom op die tafel en opgedruk word.
Petra wil-wil begin lag vir dié prentjie van haar ma, maar die afgematte uitdrukking op haar ma se gesig laat haar van plan verander.
“Ag, Heretjie my kind, net vanoggend het ek op hierdie knieë van my gegaan en die Liewe Vader gevra om my tog net krag te gee vir vandag.”
“Ma, ek is nou mos hier om te help, ontspan net.  Kry vir ma van die vleispasteitjies, ma moet iets eet.”
“Liewerste nie my kind, ek wil nie vanaand nog sukkel met die sooibrand ook nie,” sê haar ma en gooi twee suikerpilletjies in haar tee.
Petra sit die bokse op die kombuistafel neer en begin die bodems daarvan vou terwyl sy dit met kleefband toeplak.
“Dis tipies van jou pa my kind, tipies Abel.  Los my alleen om jare en jare se leef op te ruim terwyl hy met sy bas in die hemel sit.”  Petra merk op dat haar ma doodernstig lyk.
“Ma, dis nie asof pa beplan het om voor ma dood te gaan nie.  En buitendien, ek is nou mos hier, ons sal regkom.”
“Nogsteeds.”  Haar ma gee ’n diep sug en laat sak haar gesig in haar hande wat sy nou op haar elmboë stut op die tafel.  Petra skrik skielik toe sy die donker blou are op die dun, verrimpelde vel van haar ma se hande sien.
“As ma-hulle net nie soveel strooi opgegaar het nie, sou die pakkery ook soveel vinniger gegaan het.  Kom ons pak net ma se klere en verkoop die res in ’n yard sale”, probeer sy haar ma se gemoed lig.  Haar ma lyk heeltemal verontwaardig.
“Strooi?   Ag, Heretjie my kind, prys die Here dat Hy so goed vir jou sorg dat jy in weelde en in oorvloed kan lewe.”  Petra besef dat sy haar ma nie so moes tart nie, want sy kan hoor hier kom nou weer ’n ellelange preek.
“Ag ma, ma weet mos ek terg net.”
“Julle generasie weet mos nie van swaarkry nie.  Elke liewe ding in hierdie huis is met bloed en sweet verdien,” sê haar ma terwyl sy tog een van die vleispasteitjies vat.
“Wel, ons gaan moet ontslae raak van meer as die helfte van die goed ma.  Ma het gesien hoe klein die woonstelletjie in die oord is.  Ma kan regtig net die nodigste vat.”
“Nodigste?  Nou wat sal jy as net die nodigste klassifiseer my liewe kind?”
“Ek bedoel net ma: ses borde, ses koppies, ses vurke, so aan.  Vat net drie handdoeke in plaas van om die hele gangkas saam te piekel.   Dis onnodig vir ma om so baie van alles te hê.  Dis tog nie asof ma meer gaan onthaal en so aan nie.”
Dít moes Petra nie gesê het nie.  Die seer lê skielik vlak in haar ma se oë. 
“Ma, ek het dit nie so bedoel …”
“Nee my kind, jy’s reg.  Dis tyd dat ek begin vrede maak met die lot wat onse Here besluit het vir my beskore is,” sê haar ma.  Sy stut haarself op die kombuistafel en staan op.  “En terloops, weet jy wat kos handdoeke vandag?”
Vir ’n oomblik is Petra ook vies vir haar pa.  Nou het hy háár alleen agtergelaat om saam het haar al die pakwerk te doen.
“Ons moet op ’n punt begin pak, dan sal dinge nie so chaoties wees nie,” vee sy haar ma se vraag weg.  Sommer hier in die kombuis.”
“Dis reg so my kind, laat hierdie ou vrou tog maar haar mond hou terwyl haar lewe in bokse gepak en uitgedeel word.  Praat van pêrels voor die swyne …”
“Nou goed dan, kies ma nou die mooiste eetware uit wat ma wil saamvat oord toe.”
“Ja, wag net gou my kind, ma wil iets vir jou gee.”  Petra se ma verlaat die kombuis.  Hul het nog niks gepak nie, maar die Here hoor haar, sy voel al klaar uitgepak.  Sy vat ook een van die vleispasteitjies en druk dit in haar mond.  Na ’n ruk kom haar ma terug en vra dat sy na die eetkamer moet kom, na die sideboard. 
“Daar onder, in die boks,” beduie haar ma terwyl sy haarself stut teen die Imbuia-eetkamerstoel.  “Jy kan dit maar kry.”
Petra maak die boks oop.  “Dis my Royal Albert.  Die Old Country R oses-stel.  Die   volledige twintig stuk, eetware met die teestel.” 
Petra haal een van die teekoppies uit.  Sy skrik vir ’n oomblik toe sy die sagte, fyn porselein effens te hard uit die boks tel.  Sy bestudeer die koppie aandagtig.  Die donker rooi rose saam met skakerings van sagte pienk en donker groen met ’n goue randjie aan die bopunt.  Petra wil nog vir ’n oomblik dink dat dit heeltemal te kitsch vir haar smaak is, toe haar ma haar gedagtegang onderbreek. 
“Is dit nie absoluut pragtig nie?  So verfynd, so weelderig.”
“Ja, dis absoluut pragtig,” lieg sy en tel een van die pierinkies op. 
“Dis ’n internasionale versamelstuk my kind.  Jy weet nie wat dit werd is nie.  Dis van egte porselein.  Het destyds ’n plaas se geld gekos.  Nog nooit gebruik nie.  Ek kry te jammer vir die stel.  Ek sidder om te dink wat jy vandag daarvoor sal moet betaal.” 
“Dis pragtig ma,” sê Petra.  “Dankie, maar as ons nie nou gaan begin pak nie, gaan ons nie klaarkry nie.”
Haar ma sug en begin sleepvoet kombuis toe loop.

Sy gaan verseker haar ma se spogtuin mis.  Hier waar sy langs die bosse jasmyn sit en uitkyk oor die tuin, besef sy eers hoe groen haar ma se vingers werklik is.  Dis laatmiddag en nog net die kombuis, eetkamer en sitkamer is uitgesorteer.  Sy gaan moet verlof insit by die werk, hierdie pakkery gaan hul langer vat as wat sy verwag het.  Haar oog vang meteens haar ma wat by die kombuisvenster staan en vir haar waai.  Sy haas haar na haar ma.
“Ag, my kind, kom vat net vir ons gou die skinkbord buite toe.  Met my knieë wat so probleme gee, sal ek dit tog nie kan dra nie.”
Op die kombuistafel, in die skinkbord, is twee teekoppies en pierinkies uitgestal, kompleet met koekvurkies en bordjies.  Dis haar ma, háár Royal Albert-stel.  Haar ma gooi van die ketel se kookwater in die Old Country Rose-teepot.
“En dit ma?”
“Jou pa het my altyd gespot en gesê ek bêre die stel vir ingeval die Queen eendag kom tee drink.”  Vir die eerste keer vandag sien sy ’n glinstering in haar ma se oë, half ’n ondeunde glimlag wat haar plooimond oortrek.
“Nou ja, tea for two coming up,” sê Petra terwyl sy die skinkbord vat en sy en haar ma laggend buitentoe stap. 

© Frederick J. Botha